Ekostad

Ekostede kan hul inwoners met gemeenskapstuine onderhou.

’n Ekostad of volhoubare stad is ’n groot woongebied wat met die oog op die omgewingsimpak ontwerp is en wat bewoon word deur mense wat hulself daarop toespits om die hoeveelheid energie-, water- en voedselverbruik, sowel as hitte-, lug- en waterbesoedeling te verminder. Richard Register het die woord ecocity die eerste keer in sy 1987-boek, Ecocity Berkeley: building cities for a healthy future, gebruik.[1] Paul F. Downton, ’n argitek, is ’n ander hooffiguur wat ’n volhoubare stad voor oë gestel het, en later Ecopolis (Edms.) Bpk. gestig het. Die industriële ekologie-veld word partykeer ingespan om die uitleg van hierdie stede te beplan.

’n Volhoubare stad kan sy inwoners met min afhanklikheid van die omliggende platteland (plase) van voedsel voorsien, en elektrisiteit met plaaslike hernubare energiebronne verskaf. Die spil waarom alles draai, is om die kleinste moontlike ‘ekologiese voetspoor’ (ecological footprint) agter te laat en om die minste besoedeling moontlik te veroorsaak, deur grond doeltreffend te gebruik, om gebruikte materiaal na kompos te verwerk, te herwin, hergebruik of na energie om te skakel, sodat die algehele bydrae tot klimaatsverandering tot die minimum beperk kan word.

Na raming is sowat 50% van die wêreldbevolking verstedelik.[2] Hierdie groot gemeenskappe is veral onvolhoubaar, maar terselfdertyd verskaf hulle beide geleenthede en uitdagings aan omgewingsbewuste ontwikkelaars. Om stede meer volhoubaar te maak, moet die bouplanne en –praktyke, sowel as die mens se lewenswyses en wêreldbeskouings, meer in die rigting van volhoubaarheid begin dink.

Dit is nie slegs die ekologie wat beskerming geniet nie, maar ook die maatskaplike sy van die mensdom wat uit hierdie stede voordeel put. Die ekonomie in hierdie betrokke gebiede bevoordeel die hele samelewing, deurdat die verbeterde lewensgehalte binne elke inwoner se bereik is. Elke individu is deeglik bewus van sy of haar plig teenoor die gemeenskap en die omgewing; elkeen se regte word wederkerig beskerm. Misdaad is afwesig.[3]

  1. Register, Richard (1987). Ecocity Berkeley: building cities for a healthy future. North Atlantic Books.
  2. "argiefkopie". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 April 2010. Besoek op 26 Maart 2010.
  3. Wêreldvraagstukke: 'n Geografiese Perspektief, Studiegids 1 vir Module GGH102-R: bl. 123 (2000) Harmse, A. et al. Pretoria: Universiteit van Suid-Afrika. Geparafraseer en aangepas.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search